Profile
Blog
Photos
Videos
Oupa wag al vir ons. Sy selfoon het gelui toe ons by Griekwastad verby is. Ons het hom laat weet dat ons al naby is. Die laaste 140km van Griekwastad tot by Groblershoop het vinnig verby gevlieg. Vroulief het bestuur.
Dit was maar stil op die werf. Geen beweging nie. En al die hekke was op knip. Ons het soos gewoonlik voor die agterdeur gestop en ingestap. Nog steeds geen beweging nie. Om die draai, op die stoep, sit oupa met sy foon in die hand. Oom Sakkie, sy broer, is op die lyn. Nadat oupa 'totsiens' gese het, het hy ons gegroet met 'n traan van vreugde in die oog. Hy het ons styf vasgedruk. Lank. Hy het ook verlang!
Ons het dadelik begin gesels oor alles en nog wat. Na 'n rukkie het ons die tasse en goeters uit die karretjie gelaai. Sy het haarself baie goed gedra. Glad nie skaam om te ry nie en mens voel baie gemaklik agter die stuur. Dit was nou 'n goeie kopie, die Suzuki Swift.
Oupa het vir ons macaroni en mince gemaak vir middagete. Hy wil net he ons moet eet, maar ons is nie baie honger nie. Ons is net dors. Na elke ete het ons die borde gewas en alles op hulle plek gesit. Net soos toe ouma nog gelewe het. So van dit gepraat. Oupa het niks verander hierdie laaste 2 jaar vandat ouma weg is nie. Alles is nog dieselfde. Alles. Die Saterdag-middag toe ons gaan slaap het, was daar so los reen storm. Net vir 'n paar minute. Dit was baie snaaks om so skielik reen daar te sien. Maar toe ons wakker word was alles weer droog.
Ons het in die blou kamer geslaap. Die bed is hard, maar jy word tog die volgende oggend wakker en kan nog loop. Ek het gewonder of die alarm aan is die oggend toe ons wakker word. Ek wou vroeg uitglip om fotos te neem. Die fotos sukkel maar as die son eers op is. Dan is alles te helder. Dis nou 'n skerp lig daai hoor.
Wel ons het baie lekker gekuier en oor allerande dinge gepraat. Oupa is maar bekommerd om nog daar te bly. Maar voor ouma se boedel nie afgehandel is nie, kan hy nie skuif nie. Die plaas is nog nie op sy naam nie. Dit klink of hy ook maar moeilik by al sy dinge uitkom. Hy moet werk want daar is heelwat wat betaal moet word. So hy kan nie net rus nie. Ek dink hy sal graag nou 'n 'pit stop' wil maak.
Sondag het ons gebraai. Baie vleis! Dit was so lekker. Oupa gebruik mos mieliestronke om die vuur mee te maak. En dit werk goed. En vinnig. Ook geen snaakse speserye nie, net sout en peper. Na ete het ons soos gewoonlik gaan le en rus. Dis darem maar 'n doodslaap daai. Dis warm en jou liggaam gee net oor om te rus.
Maandag is ons na ouma se graf toe, daar rondgeloop en toe weg na Keimoes toe. Ons betree nou nuwe plekkies.
- comments